Wat ons jou bied

AKADEMIES

Op akademiese gebied presteer ons skool baie goed.

Op grond van ons matriekuitslae word ons etlike jare reeds onder die Top 5 skole in die distrik gereken.
Die onderrig is van hoogstaande gehalte – ons beskik oor ervare en kundige personeel. Sommige van ons vakke is al aangewys as die toppresteerders in die distrik en van ons personeel neem leiding ten opsigte van vakke oor al die skole in die distrik. Daar is ook van ons personeel wat aangewys is en optree as eksaminators en moderatore vir die distrik.

Ons beskik oor 3 pragtige, volledig toegeruste rekenaarsentrums met internetkoppeling. Ons het ook ons eie Internetkafee waar leerders navorsing kan doen vir take na skool. Van ons klaskamers is ook toegerus met dataprojektors en televisieskerms om onderrig te vergemaklik.

Behalwe vir die gewone vakke wat alle skole aanbied in graad 8 en 9, bied ons skool vanaf graad 10 tot 12 ook vakke soos Ingenieurs Grafika en Ontwerp, Visuele Kuns, Gasvryheidstudie, Verbruikerstudie, Toerisme en Geskiedenis aan.

Die Visuele Kuns leerlinge het jaarliks hul eie kunsuitstalling, waar hulle ook hul top studente vereer.
Die Gasvryheid bied 2 keer ‘n kwartaal ‘n Restuarantaand aan vir ouers en vriende om te kom smul aan die heerlike geregte wat die leerlinge voorsit.

Toerisme-leerders gaan jaarliks op ‘n prettige naweek uitstappie waar hulle verskeie Erfenis gebiede besoek. Hulle vier ook Wêreld Toerismedag in kleurvolle styl.

SPORT

Op sportgebied is Hoërskool Tuine ‘n faktor om mee rekening te hou.

Wat die atletiek aanbetref, neem ons skool in die C-bond deel en het jaarliks atlete wat provinsiaal en nasionaal deelneem. Een van ons oud-leerlinge, was al reeds in sy matriekjaar ‘n wêreldkampioen in gewigstoot. Ons sanggroep het die afgelope 5 jaar ‘n 3de plek, 2 keer ‘n 2de plek behaal in die Geesvangkompetisie en ook die Geesbeker 2 keer al gewen tydens die Interhoër.

Al ons A-netbalspanne het die afgelope 4 jaar onder die eerste 3 posisies in die distrik geëindig. Elke span het ‘n baie bekwame afrigter en ons beskik ook oor hoë gekwalifiseerde skeidsregters. Van ons dogters dring gereeld deur na die Gauteng Noord se finale proewe.

Ons skool is wat die hokkie aanbetref, verskeie kere al algehele wenners van ons liga gewees.

Krieket word vir seuns en dogters aangebied. Al drie ons seuns A-spanne het verlede jaar onder die Top 3 in die liga geëindig. Ons dogterskrieketspan het die afgelope 5 jaar in die finaal vir Gauteng-Noord gespeel en dit ook een keer gewen. Ricea Coetzer is tans lid van die Titans se senior vroue krieketspan.

Tennis word aangebied vir seuns en dogters. Ons bied lesse aan vir beginners en daar is ook professionele afrigters by ons skool se tennis betrokke.

Ons skaakspanne neem in die Gauteng-Noord liga deel en ons het ook ‘n seunsspler gehad wat ‘n 1ste plek behaal het by die Gauteng Noord Skaak-Unie se Blits-Toernooi.

Ons eerste rugbyspanne van 2013 en 2014 was Blou-Bulle Stadsbekerwenners en het ons ongelooflik gemotiveer om weer sulke spanne op te lewer. Ons rugbyspanne word deur baie bekwame persone afgerig. Twee van ons rugbyseuns het onlangs die Blou Bulle Akademie-span verteenwoordig.

Sagtebal floreer by ons skool onder baie bekwame afrigters. Ons het tans twee provinsiale afrigters en een SA afrigter. Sagtebal word vir beide seuns en dogters aangebied. Elke jaar het ons leerders wat provinsiale klere verwerf en opgeneem word in die ‘All Stars’ Span. Al die seunsspanne dring gereeld deur tot die Gauteng Noord semi-finale. Vorige jare het ons al verskeie kampioenspanne opgelewer.

Ons skryf ook elke jaar ‘n Gholfspan in wat in hul liga baie goed vaar. Ons ontgin rou talent op die gholfbaan. Ons bied ook elke jaar ‘n prettige Gholfdag aan.

Ons skool beskik ook oor ‘n volledige toegeruste gimnasium vir die sportdeelnemers om te gebruik vir ontwikkeling.

KULTUUR

Die Kultuuraktiwiteite by ons skool word hoog aangeskryf.

Verskeie suksesvolle produksies soos pantomimes, revues en tonele word aangebied, wat jaarliks vol sale trek.

Leerders word die kans gegun om hul talente te vertoon by die jaarlikse talentaand. Ons het leerders wat kan sing, dans, instrumente speel en selfs wat trompoppie toertjies kan doen.

Die Afrikaanse en Engelse Redenaarsaande word ook elke jaar aangebied, en ons skool verwerf telkens eerste plekke by die interskole redenaarskompetisies wat gehou word.

Wat die kultuuraktiwiteite by Hoërskool Tuine so uniek maak, is dat ons ook baie talentvolle onderwysers het, wat saam met die leerders aan die produksies deelneem.

SOSIAAL

Op sosiale gebied bied ons elke jaar ‘n pragtige Mnr en Mej Tuine kompetisie aan waar verskeie bekende kunstenaars as gas kunstenaars optree.

Ons loods elke jaar vele fondsinsamelings in die vorm van kos, klere en komberse wat ons weer uitdeel aan instansies om die wat dit benodig te help en te ondersteun.

Daar is ook drie leerders wat ons skool verteenwoordig by die Junior Stadsraad.

By Hoërskool Tuine bied ons aan elke leerder soveel geleenthede om hul talente te ontwikkel en te presteer.

Ons poog om goed gebalanseerde jongmense met die regte waardes as grondslag, die grootmenswêreld in te stuur.

Sluit aan by ons wenspan, wees standvastig.